Gure weer maak hom iesegrimmig. Wanneer onweer broei, skuif die skadu van sy verlede soos ’n kouefront oor sy gemoed en ’n roekelose moordlus pak hom beet . . .
Ek praat van die reeksmoordenaar in Rudie van Rensburg se nuutste misdaadroman, ene Pieter Vermooten. Die skim met die vele skuilname en die byna totale afwesigheid van ’n digitale spoor. Die man met die hope geld en ’n ding vir skaars munte. Die hartedief met die ouwêreldse sjarme en die vermoë om enige vrou se knieë lam te maak.
Hartedief is nie jou tradisionele, raaiselgedrewe speurverhaal nie, want die identiteit van die moordenaar word relatief vroeg in die roman bekend gemaak. Trouens, van meet af aan word hy as een van die fokalisators geponeer en kry die leser regstreekse insae in sy doen en late. Die kernraaisel is dus nie soseer wie die moord gepleeg het nie, maar waarom hy moor en of hy betyds gevang gaan word.